|
Geskiedenis van President Brand Primêre Skool
Die skool is aanvanklik gestig op 7 Julie 1873 met ‘n leerdergetal van 21. Dit was ‘n privaatskool met die naam van “Infant Primary School” en was gesetel in St Georgestraat. Die prinsipaal was ‘n ene Mej Dunn.
In Oktober 1875 verskuif die skool egter na Fonteinstraat, as gevolg van die uitbreiding en omdat die aanvanklike gebou met sy een klaskamer te klein geword het. In 1876 het die skool geaffilieer met die destydse Damesinstituut, tans Eunice, en dien die skool as voorbereidende skool vir die kindertuinklasse van die Damesinstituut en Grey-Kollege. In 1888 word daar ‘n ekstra vertrek opgerig as gevolg van die verdere uitbreidings. Een rede was omdat die skool nou ook Nederlands as onderrigtaal, tesame met Engels, gebied het.
In Januarie 1901 het die skoolgetalle toegeneem tot 56 en het daarna so vinnig gegroei dat daar besluit is om ‘n skool met twee klaskamers teen die hande van Seinheuwel te bou. Die nuwe gebou is op 14 Augustus 1908 amptelik geopen in Eerstelaan. Die naam was steeds die “Infant Primary School”.
In Januarie 1917 het die skool sodanig gegroei dat daar voorsiening gemaak is vir ‘n Standerd 5 klas. Die getal leerders op die skoolrol was toe 156. Teen die einde van dieselfde jaar het 2 inspekteurs, nl. Noakes en Wessels weer die skool besoek en het hulle in hulle verslag die eerste keer verwys na die skool as “President Brand Public School”. Dit is egter moeilik om te bepaal presies wanneer die naamsverandering plaasgevind het, maar op 5 Oktober 1917 word ‘n aantal nuwe klaskamers geopen en was dit waarskynlik die amptelike datum van die naamsverandering. Tydens hierdie geleentheid het Kolonel Brand ook ‘n foto van wyle President JH Brand aan die skool oorhandig. Dus is die skool dan ook vernoem na die destydse president van die Republiek van die Oranje Vrystaat, President JH Brand (1864-1888).
Die skoolkommissie het intussen ook verder aandag gegee aan die nuwe naam van die skool en op 25 November 1919 word besluit dat President JH Brand se familiewapen as skoolwapen moes dien. Kolonel Brand is genader sodat die familie se toestemming verkry kon word. Nadat toestemming verleen is, het die skool dan amptelik die wapen van President JH Brand as skoolwapen gebruik. Hiermee is die skool se naam finaal aan die van President JH Brand verbind.
Die skool het gegroei en vele welslae behaal op verskillende terreine. Die skool was ook betrokke by vele gebeurtenisse in die Wêreldgeskiedenis, deurdat hulle die skool gesluit het op sekere dae, te wete onder andere die ondertekening van die vrede van Versailles (12 November 1918); besoek van die Prins van Wallis aan Bloemfontein (29 Mei 1928); hulde gebring met die afsterwe van wyle Emily Hobhouse (27 Oktober 1926); viering van Uniedag (Republiekwording) jaarliks op 31 Mei; deelname aan die Hugenotefees (22 September 1939); begrafnis van Koning George VI van Engeland (15 Februarie 1952); optog vanaf Bloemfonteinstasie tot by Springbokpark as deel van die Riebeeckfeesviering (18 Februarie 1952).
Een van die grootste skenkings aan die skool, omdat ons baie waarde daaraan heg, was die borsbeeld van President JH Brand. Die twee Jonson seuns het op 11 Februarie 1955 die beeld aan die skool geskenk. Dit is gemaak deur hul ma se suster, die bekende Bloemfonteinse beeldhoudster mej D Gildenhuys. Die borsbeeld staan vandag nog in die skool se voorportaal.
In Januarie 1965 het die leerdergetal van die skool op 575 gestaan. Dit het jaarliks tot 1968 gegroei tot uiteindelik 651 leerders. Daarna het die getalle geleidelik begin afneem totdat die skool in 1985 slegs 123 leerders gehad het. Daar is verskillende redes hiervoor, onder andere dat die gemeenskap ouer geraak het; jongmense het uitgewyk na nuwer en jonger voorstede; besigheidsindringing in Westdene; studentehuise in omliggende strate; en so meer.
Mnr PR du Plessis (Oom Dup), die skoolhoof op daardie stadium, sou na sy 60ste verjaarsdag ook uitgetree het aan die einde van Junie 1986. Mnr Gert Heyns (destydse Hoof van Beplanning in die Departement) het gereël dat die skool dan teen die einde van 1986 gesluit sou word. Mnr du Plessis het egter gevra dat die naam van die skool nie verlore moet gaan nie. Mnr Heyns het te kenne gegee dat die Departement besig was met die oprigting van ‘n nuwe skool in Pellissier en dat hy sal reël dat die naam daarheen oorgedra sou word. Tydens ‘n spesiale vergadering van die beheerraad op 22 November 1985 is goedkeuring daartoe verleen.
Die trek na die nuwe skool het op 5 Januarie 1987 plaasgevind. Die nuwe skool se geboue was nog nie alles voltooi nie en moes baie meublement gestoor word. Op 13 Januarie 1987 het die nuwe skool in Pellissier, naamlik President Brand Primêre Skool, sy deure vir die eerste keer geopen. Daar was slegs 4 klasse, naamlik 2 Sub A’s; 1 Sub B en 1 Standerd 1 klas, met ‘n totaal van 94 leerders. Die terrein van die skool was nog baie deurmekaar en baie van die geboue was nog in aanbou. Met baie geswoeg en gesweet is die geboue voltooi en die terrein uitgelê en gras en plante aangeplant. Vandag spog ons met een van die mooiste terreine in die stad.
Vanaf 1988 groei die skool se getalle elke jaar. In 1990 was die skool volledig vanaf Graad 1 (Sub A) tot en met Graad 7 (Standerd 5) met ‘n leerlingtal van 364. Soos wat die leerdergetalle toegeneem het, het ook die personeel gegroei en in 1990 was daar dertien dames en ses mans op die personeel. Die daarop volgende vyf jaar het die skool se getalle gegroei tot by 624 en bereik die skool die status van ‘n P1-skool. Teen 1997 was daar 660 leerlinge verbonde aan die skool, met ‘n personeeltal van 28.
Teen 1993 het dit duidelik geword dat daar ‘n groot behoefte bestaan aan ‘n formele preprimêre skool vir die woongebied in Pellissier Na deeglike beplannings is goedkeuring deur die Departement verleen en op 19 Januarie 1994 het die preprimêre skool sy deure geopen met een onderwyseres, ‘n vol klas en ‘n waglys. Teen 1997 was daar reeds 120 kleuters met drie onderwyseresse in die skool. Hierdie stukkie geskiedenis laat die gedagtes onwillekeurig teruggaan na die Engelsprekende juffrou wat die “Infant Primary School” met 21 leerlinge in St. Georgestraat begin het.
Vanaf 1995 het President Brand vele verder hoogtepunte behaal. Die Graad 7 Voortrekkers en hulle ouers is met ‘n toer na Namibië vir tien dae. Daarna is daar weer by twee geleenthede na Namibië getoer met Voortrekker-groepe. Wat ‘n onvergeetlike gebeurtenis was dit nie. In 1998 vier die skool sy 125ste bestaansjaar. Groot feeste is gehou met onder andere ‘n vlotoptog vanaf die ou skool in Eerstelaan na die kantoor van die destydse Premier. By laasgenoemde is ‘n feesblad aan die verteenwoordiger van die Premier oorhandig. Daar is ook ‘n heerlike feesdinee aangebied op 16 Oktober 1998 vir oud-skoolhoofde, oud-onderwysers, oud-skoliere en die destydse Beheerliggaam. ‘n Gedenkplaat is ook aan die skool geskenk en deur Mnr DGC Potgieter (die Skoolhoof) onthul.
In die jaar 2000 is die eerste toer oorsee onderneem. Twee spanne (o/13 rugby en o/13 netbal), tesame met die skoolhoof, hulle afrigters, span-bestuurders, ouers en ander belangstellendes het die toer meegemaak. Dit was ‘n onvergeetlike gebeurtenis en sommige lede van die toergroep praat nou nog daaroor. In Julie 2001 was ons skool bevoorreg om besoek te ontvang van die destydse Premier, Mev Winkie Direko. Sy het ons na die besoek gegroet met ‘n mooi verslag rakende die werksaamhede by ons skool.
President Brand kyk terug op ‘n tydperk van geweldige groei en ontwikkeling as skool, om sy bydrae te kan lewer aan die gemeenskap waarin hy hom tans bevind, asook vir ons land.
Deur die jare heen het die skool dan ook besondere manne en vroue opgelewer wat ‘n positiewe en leidende rol in die samelewing vervul het.
President Brand het nog altyd die inisiatief gehad om struikelblokke te oorkom. Die uitdagings het in die jongste tyd miskien ‘n bietjie groter geword, maar met die nodige leiding van ons Hemelse Vader bly ons skool se leuse nog altyd van krag: “Vincere aut mori” - Oorwin of sterf.
Vir meer gedetailleerde inligting oor die geskiedenis van die skool, is u welkom om navrae aan die skool te rig.
SKOOLHOOFDE VAN DIE INFANT PRIMARY SCHOOL EN PRIMêRE SKOOL
PRESIDENT BRAND
1. Skool in St. Georgestraat.
Mej. Dunn (Jul. 1873 - Sept. 1875)
2. Skool in Fonteinstraat.
Mej. Dunn (Okt. 1875 - Des. 1882)
Mej. Nielson (Jan. 1883 - Jun. 1884)
Mej. E. Smart (Jul. 1884 - Des. 1894)
Mej. J.M. Kennedy (Jan. 1895 - Apr. 1896)
Mej. S.A. Stephen (Sept. 1896 - Des. 1900)
Mej. M. Marais (Jan. 1901 - Aug. 1908)
3. Skool in Eerste Laan.
Mej. M. Marais (Aug. 1908 - Apr. 1911)
Mej. C. Kofoed (Mei 1911 - Des. 1913)
Mnr. J.D.M. Swart (Jan. 1914 - Des. 1940)
Mnr. I.J. Grové (Jan. 1941 - Jun. 1951)
Mnr. W.J. Jordaan (Jul. 1951 - Des. 1963)
Mnr. A. Campbell (Waarn. Jan. 1964 - Des. 1964)
Mnr. P.R. du Plessis (Jan. 1965 - Jun. 1986)
Mnr. A.D. Schoeman (Waarn. Jul. 1986 - Des. 1986)
4. Skool in Pellissier.
Mnr. A.D. Schoeman (Waarn. Jan. 1987 - Des. 1989)
Mnr. R.L. Mould (Jan. 1990 - Des. 1990)
Mnr. A.D. Schoeman (Waarn. Jan. 1991 - Des. 1991)
Mnr. D.G.C. Potgieter (Jan. 1992 - )
|