Inleiding
Dieselfde passie wat sedert die stigting ‘n kenmerk van President Brandskool was, openbaar hom vandag nog in die doen en late van ons skool. Daarom dat, te midde van dramatiese veranderinge in die onderwys, President Brand nie maar net ‘n gewone skool is nie, maar hom steeds in ‘n toenemende mate gevestig het as ‘n instelling wat uitnemende opvoedende onderwys sy primêre doelstelling maak. President Brand het nog altyd die inisiatief gehad om struikelblokke te oorkom. Die uitdagings het in die jongste tyd miskien ‘n bietjie groter geword, maar met ‘n Bestuurspan, Beheerliggaam en ander Staande Komitees uit ouergeledere, soos waaroor die skool tans beskik, kan elke leerder en ouer die toekoms met vertroue tegemoet gaan. President Brand beskik ook oor hoogs gekwalifiseerde opvoeders en afrigters in elke leerarea en op elke gebied van die Buitemuurse Aktiwiteite, om sodoende die beste aan elke leerder, wat aan ons toevertrou is, te bied.
Die skool se leuse bly nog altyd van krag: “Vincere aut mori” - Oorwin of sterf. Ek sluit af met die woorde van wyle dr D.F. Malan wat gesê het toe hy reeds 80 jaar oud was: “Die grootste geluk in die lewe word gesmaak deur jou onvoorwaardelik, met al jou kragte en talente, te wy aan ‘n saak veel groter as jyself.” As ons en u saam hierin kan slaag sou ons eendag kon waag om te fluister: “Ek het nie tevergeefs gelewe!”
Baie welkom by die skool waar u kind in totaliteit opgevoed word!
DAAN POTGIETER
SKOOLHOOF
|